(012) 379 6181 ontvangs@hstuine.co.za

Skole is al weke aan die gang en  groot aanpassings is reeds gemaak in ‘n poging om weer “normaal”  te leef.  Met leerders  terug by skole en elke dag volgepak met verpligtinge, probeer gesinne net om deur elke dag te kom.

Stop!!  Hoe kan ouers bydra om hul kinders se prestasie te verbeter?

Kom ons begin by die begin… ontbyt. Ontbyt is die belangrikste maaltyd van die dag en tog die een wat so maklik afgeskeep word. Na ‘n goeie nagrus is bloedsuikervlakke gewoonlik laag en moet voedsel ingeneem word om die bloedsuikervlakke te stabiliseer totdat ‘n meer volledige en gebalanseerde maaltyd* geëet kan word. Indien niks vroegoggend geëet word nie, val die bloedsuikervlakke verder en is leerders vroeg-vroeg moeg, lusteloos en lêerig. Konsentrasievlakke val en ‘n bose kringloop begin.

Sommige gesinne het tyd om rustig te raak en ‘n ontbyt tuis te geniet terwyl ander  net  tyd het vir ‘n op-pad-ontbyt. Die resultate van beide kan dieselfde wees vir kinders en jong volwassenes: konsentrasie- en energievlakke verbeter en leerders hoef nie op gaskoeldranke staat te maak om hulle te dra tot pouse nie.

Hier volg ‘n paar wenke en voorbeelde  vir ‘n vinnige ontbyt:

  • Beplan vooruit sodat kinders nie elke dag dieselfde kosse eet nie.
  • Hawermout (oats) is altyd ‘n goeie keuse.
  • ‘n Smoothie gemaak van vrugte en yoghurt is ideal en vining.
  • ‘n Lekker vars appel hou die dokter weg.
  • ‘n Sakkie met neute ,rosyne, sade met rosyne of bosbessies kan sommer in die motor geëet word.
  • Joghurt bly ‘n wenner
  • ‘n ‘Shake” met ‘n lepel proteïenpoeier in is gesond en gee energie.
  • ‘n Stukkie vleis, of wors toegerol in ‘n sny bruinbrood is heerlik.

 

Die kinders se voedselbehoeftes is aangespreek en hulle begin die dag reg!

Al wat nou nog nodig is, is ‘n kosblik-ete om die kinders aan die gang te hou tot vanmiddag.  Moenie skrik en moedeloos raak nie!  Hierdie hoef nie net een persoon se verantwoordelikheid te wees nie; maak beurte of maak spanne of  werk almal saam.

*Hoekom ‘n kosblikete, en nie net ‘n pakkie “slap chips” en ‘n gaskoeldrank nie?  Hierdie tipe etes is hoog in suiker en vet wat bloedsuiker weereens negatief sal beïnvloed en kan lei tot diabetes of vetsug.  Terwyl ‘n kosblik met ‘n verskeidenheid eetgoed is ‘n geleentheid vir:  breinkos, ‘n  gebalanseerde maaltyd en  interessante eetgoed. So  word energievlakke normaal gehou en hongerpyne vasgevat.  Dit gee leerders ‘n kans om heeldag op skoolwerk te konsentreer

Wat beteken gebalanseerd?

Dis‘n maaltyd waarin elk van die voedselgroepe verteenwoordig is

Vleis (proteien), Grane (stysel) Melk, Vrugte en groente, Vette

Wenke vir interessante kosbliketes:

  • Gebruik ‘n kosblik met afskortings of waarin verskillende houers kan pas.
  • Moenie tamatieskywe direk op die brood sit nie; dit sal voorkom dat die brood pap word.
  • Indien avokado gebruik word, sprinkel ‘n bietjie suurlemoensap oor om te voorkom dat dit verkleur.
  • Gebruik kleur; onthou leerders eet eers met hul oë.
  • Neem leerders se voedsel voorkeure in ag.
  • Gebruik oorskietkos van die vorige aand se ete.
  • Maak voorsiening vir versnapperinge (“snacks”)– neute is regte breinkos.
  • Grondboonbotter is gesond en baie lekker. Kombineer dit met konfyt, stroop, heuning of kaas

Paar voorbeelde vir kosbliketes

  1. Pastaslaai, volgraantoebroodjie met kouevleis, ‘n naartjie en klein pakkie lekkers of sakkie met neute ens (“trailmix”)
  2. Hoenderrepies, komkommerskyfies (pitte verwyder), rosa tamaties, wortelstokkies, ‘n klein bakkie met slaaisous en ‘n sakkie met neute en sade.
  3. Volgraantoebroodjie met kouevleis of hoendermayo en groentestokkies,
  4. Volgraankraakbeskuitjies, kaaswiggies, rosa tamaties, kouevleis (sit ‘n plastiekmessie in)

  1. Klein pizzatjies, slaai of groentestokkies, houertjie yoghurt (sit ‘n plastiekteelepeltjie in)
  2. Muffin, kaas, rolletjies ham met mosterdsous,
  3. Volgraantoebroodjie met grondboonbotter, vrugte (druiwe of piesang ) en jogurt,
  4. ‘n Wrap met ham en kaas, rosa tamaties, neute en ‘n  appel,

Maak ‘n verandering en sien die resultate!