(012) 379 6181 ontvangs@hstuine.co.za

Ons almal het ‘n persepsie oor wat ons dink ons kan doen en wat ons nie kan doen nie. Hoeveel keer het jy al gehoor iemand sê dat hulle nie goed is met wiskunde of ek is nie ‘n persoon vir wetenskap  nie. As ‘n sportafrigter hoor ek gereeld dat kinders sê:  “Ek is nie ‘n atleet nie.”

Nou mag jy jouself afvra hoekom ek in die opening sin gesê het almal het ‘n  persepsie van wat hulle kan doen. Ek gebruik juis die woord persepsie, want dis presies wat dit is.

Volgens die topverkoper boek van Dr. Carol Dweck, ‘n welbekende sielkundige, word die volgende punte beklemtoon. Met jare se navorsing het sy tot die volgende slotsom gekom:

Jy kry twee tipes denkrigtings:

  1. ‘n Vaste denkrigting (Fixed mindset)
  2. ‘n Groeiende denkrigting (Growth mindset)

Sy  het sonder enige twyfel bewys dat om suksesvol te wees, moet jy ‘n groeiende denkrigting hê.

Wat is die verskil tussen die twee?

‘n Vaste denkrigting is die beginsel van “ek kan nie” of  “ek sal dit nie kan doen nie.”

Dit is die persepsie van: “Jy is so geskape en so laat staan” en dat daar niks is wat jy kan doen om ‘n nuwe vaardigheid of ‘n beroep te kan aanleer nie. Hierdie denkrigting sal jou laat stagneer. Dit sal jou genoeg bied om aan die lewe te bly, maar nie om te leef nie.

Aan die ander kant van die munt is die groeiende denkrigting. Sou jy hierdie denkrigting beoefen ,sal jy  jouself bevind in die geselskap van ‘n handjie vol individue wat tong in die kies, die wenresep van die lewe bekom het.

In samewerking met van die rykste mense in die wêreld het Dr. Dweck bevind dat nie een van die top 100 mense op Forbs se lys  ‘n vaste denkrigting het nie, maar elkeen beskik oor ‘n groeiende denkrigting. Hulle is mense wat streef om hulle self op ‘n daaglikse basis te verbeter, te groei en te leer. Al hierdie mense besit ook twee of meer besighede wat in baie gevalle niks met mekaar te doen het nie. Dit wys dat hulle oor die vermoë beskik om buite die boks te kan dink, nuwe uitdagings te kan aanpak en suksesvol te kan wees. Beteken dit dat met ‘n groeiende denkrigting altyd net sukses sal bereik?  Nee, glad nie, maar wat hierdie mense besef, is dat enige terugslag ‘n geleentheid is vir leer en groei en ‘n kans om dinge anders te doen.

Ter afsluiting, neem ‘n groeiende denkrigting aan. Hou op om jouself te onderskat en jouself te verhinder van nuwe uitdagings.  Glo in jouself.  Jy is kosbaar, jy is waardevol. Jy verdien dit!!

Geskryf deur:

Ruhan Du Preez
Dissipline hoof