Dit maak nie saak van jou velkleur, ouderdom, geloof of politieke oortuiging nie, op 24 Junie 1995 het die volk soos een man agter die Springbokke gestaan. Jare daarna het ons waarlik besef wat die werklike impak van daardie kosbare gebeurtenis is. Op daardie oomblik het ons nie besef dat sport mense soos ‘n groot magneet aantrek nie.
Wat daardie dag net soveel meer besonders maak, was dat die pawiljoen wel vol rugbyspelers, netbalspelers, swemmers en fietsryers was, maar daar was ook rekenmeesters, onderwysers, besigheidsmanne en -vroue, kunstenaars, akteurs . Mense wat dalk nooit self aan ‘n rugbybal gevat het nie, dalk nooit self op enige sportveld was nie, maar daar het almal gestaan, uit volle bors die volkslied gesing en met ‘n polsende hart gewag vir die afskop.
Sport is nie net vir sportmense nie, dis vir almal, vir ouma en oupa, ma, pa, boetie en sussie, en ja selfs vir die wat om verskeie redes nie sport kon of wou doen nie.
Die lesse wat sport ons leer is ook van onskatbare waarde.
Sport leer ons van dissipline. Dit leer ons om betyds by oefening te wees en om getrou jou oefenprogram te volg. Daar is niks soos ‘n ekstra 800m om jou gou te laat verstaan jy kom nie weer laat nie, of dalk ‘n vinnige 50 opstote.
Sport skep die geleentheid om jou te leer van deursettingsvermoë. Dit leer jou om te aanvaar dat dinge nie altyd uitwerk soos jy beplan nie en dat jy kan aanpas by omstandighede wanneer dit gebeur.
Nog ‘n baie belangrike punt is spanwerk. Baie mense dink jy moet in ‘n sportspan wees om te leer van spanwerk. Tog is hierdie ver verwyder van die waarheid. Selfs in ’n sport soos golf is samewerking belangrik. Sonder iemand wat die golfsak dra en raad gee, ‘n bestuurder, ‘n afrigter en ‘n fisioterapeut sal die golfspeler nie sukses behaal nie. Dieselfde met atletiek. Een persoon sak dalk in daardie wegsprinblok, maar daar is ‘n span mense wat dit vir daardie atleet moontllik maak om daar te wees.
Dit laat ons besef dat as ons suksesvol wil wees, ons afhanklik gaan wees van ander mense. In die selfde asem besef ons dat sport ons ook leer van die belangrikheid van menseverhoudings.
Dus, as jy fisies in ‘n toestand is om sport te kan doen, doen dit, probeer dit! Sou jy vir een of ander rede nie in staat wees om wel sport te kan doen nie, wees die beste sportondersteuner wat jy kan wees!
Geskryf deur:
Ruhan Du Preez
Dissipline hoof