(012) 379 6181 ontvangs@hstuine.co.za

Wanneer jou kind klein is, is hulle fokus meer op hulle gesin. Hulle identiteit is gesetel in hulle gesin en sal eerder aktiwiteite saam met hulle gesin doen. In die tienerstadium word hulle fokus verskuif na vriende en wil hulle hul eie identiteit apart van hulle gesin ontwikkel en dan speel groepsdruk ‘n baie groot rol.

In die tydperk stamp die ouer en tiener gewoonlik koppe en vind daar gereeld konflik plaas.  ‘n Mens word nie met probleemoplossingsvaardighede gebore nie en jy moet dit ontwikkel en dus kan jy jou kind help om vaardighede en stratigieë te ontwikkel om probleme op te los. ‘n Ouer is nie altyd daar om probleme op te los nie. Wanneer jou kind sy eie probleme opgelos het, voel hy beter oor hom/haarself en kan hulle ook goeie besluite in die toekoms neem. Dit is egter altyd belangrik om kalm te bly en te luister.

Stappe vir probleemoplossing:

  • Identifiseer die probleem en plaas dit in woorde bv. “Ek was bekommerd oor jou. Jy het Saterdagaand uitgegaan sonder om ons inkennis te stel.”

Fokus op die probleem en nie die emosie nie.

  • Hoekom is dit ‘n probleem? Beskryf die bydraende faktor tot die probleem bv. “Hoekom was dit belangrik dat jy uitgegaan het, sonder om ons in kennis te stel. Wat dink jy kon gebeur het”….

Luister sonder om te baklei.

  • Idenitifiseer moontlike oplossings. Maak ‘n lys van moontlike maniere hoe die probleem opgelos kon word. Moet nie oordeel nie.
  • Evalueer die moontlike oplossings en kyk na die praktiese toepassing daarvan, asook die voor- en nadele van elk. Kies een oplossing en wees konsekwent daarmee bv. “Indien jy Saterdagaand wil uitgaan moet jy reeds teen Donderdag vir ons die reëlings deurgee met al die besonderhede van waar, wanneer, hoe laat, tyd ens.”
  • Pas die oplossing prakties toe.
  • Evalueer na die tyd of die oplossing die beste gewerk het. Onthou situasies kan verskil en die toepassing van effektiewe oplossingsvaardighede is, dat jy moet kan aanpas by situasies.

Deurdat jy tyd en energie gee aan die ontwikkeling van probleemoplossingsvaardighede by jou kind stuur jy ‘n boodskap aan jou kind dat jy sy insette waardeer en dit kan julle verhouding net versterk.